‘N MONDVOL LIMERIEK
Die Sage van die lam, die wolf en dié Lam
Eendag was daar ʼn moordlustige lam,
ʼn kind van die Satan met die naam Saddam.
Hy het dors gekry,
na ʼn stroom gery,
die stroom het uit ʼn doringbos ontstam.
In die bos het die Duiwel se wolf gebly.
Hy het daarvan gehou om met almal te stry.
Hy’t na die stroom gehaas,
neem bo die lam plaas.
Verwoed trap hy modder – hy’t gesmaak vir baklei.
“Ek het sommer lus en maak jou dood.
Kyk hoe bemors jy die water met jou poot.
Ek is George van die Bos
en lam is my kos!
Ek sal jou vreet van die wal tot in die sloot.”
Verskrik het die lam geblêr en gemis:
“Asseblief meneer wolf, ek was nie aspris.
Ek beloof om nooit weer
u stroom te versteur,
solank u net nooit sê u is vir my lus.”
“Nou goed”, sê die wolf, “maar ek het gehoor
dat jy wapens van massa-vernietiging stoor.
Ek sê jou, jou vloek,
ek sal kom ondersoek
en is dit waar, sal ek jou persoonlik vermoor.”
Die lam stal sy mooiste grynslag uit
om te kyk of hy die wolf se aggressie kan stuit:
“Ek het tóg my leuse:
ek moor net Irakese.
Ek los ʼn American en ʼn Twenty-eight.
Die bietjie gifgas waarna u soek
is skaars genoeg vir die Koerdiese vloek
en my ander vyande.
Dis regtig ʼn skande
Soos hulle my naam wil vee uit die Boek.”
Toe het George die lam kwaai aangegluur
en die lam trippel rond – dag dis sy laaste uur.
“Ek het nog een vraag
en durf jy dit waag
om my op enige dwaalspoor te stuur!
My Christen raadgewers sê ek moet vis
of jy dalk die wrede Antichris is.
Kan jy dit weerlê
of iets daaroor sê?
Want ʼn ‘ja’ is ʼn spyker in jou doodskis gewis.”
“O my agbare wolf ek staan verstom.
Hoe ’t u tot so ʼn gevolgtrekking gekom?
Ek pleit onskuldig
en voel selfs beledig,
maar ek wil tog weet hoe maak u die som.”
“Irak is historiese Babilon.
Sy koning die een wat sal kom, sê my bron.
Hy’s die Antichris,
die groot herrie-vis,
gemorskos vir ʼn geallieerde kanon.”
Die lam skrik groot en word koud soos ys.
Die wolf het hom blykbaar as teiken gelys.
Met verslane verweer
en gemesmeriseer
sug hy: “Your Honour, I rest my case.”
Ter versagting het die lam vir oulaas gesê:
“Ek het gehoor dat die Groot Boek dit so wil hê
dat die wolf
en die lam
vreedsaam en vreetsaam langs mekaar kom lê.”
Sy stem het van rou emosie gebreek,
maar die wolf se ore was toe vir sy preek.
Hy is terug na die bos
met ʼn belofte van kos
aan sy pitbulls waarmee hy hom sou wreek.
Hy laat kom vir Colin sy hoof vegminister
en beveel hom: “Skryf ʼn WMV register.
Maak die pap dik aan
dat ons op vaste grond staan,
maar maak gou! Die saak is so dringend soos gister.”
Die Skrif is toe voor die VN gelê
en nog lank voordat jy ‘mes’ kon sê
is dit goedgekeur,
sonder veel verweer
en George het gehad wat hy wou hê.
Gou-gou was die wolf se oorlog in rat.
Irak het ontplof soos ʼn reuse kruitvat.
Oues en kinders
vroue en vegters
se bloed het in Bagdad se strate gespat.
Ook nie lank nie of die regime val plat.
Op die stadsplein sien ʼn lamsbeeld sy wat.
Die lam was geskaak
uit die voete gemaak
en gaan wegkruip in ʼn slang-vriend se gat.
Maar ʼn vet losprys het hom uitgewys.
Die mees gesoekte geskrap van die lys.
ʼn Ou man gebroke,
moeg maar ontstoke,
het uit daardie donker kelder verrys.
Hy was gedaag voor die wolf se regter.
Het gepleit vir een koeël deur kerk en vegter:
“Laat sak tog my son
voor ʼn vuurpeloton?”
Maar ʼn galg was die lam versus wolf beslegter.
Die wolf en sy makkers was in ekstase.
Die lammers se bloed was ʼn oase.
ʼn Reuse banier
verklaar hul plesier:
Mission Accomplished, wys wie is die base.
Maar Iemand hou die gebeure stil dop.
Die wêreld was weereens lekker gefop.
Want voor ʼn TeeVee
wag díé Lam gedwee
dat die tydslot oopskuif, want dan staan hy op.
Lizzie
Daar was eenmaal ʼn nooi genaamd Lizzie
By die manne so glad soos ʼn vizzie
Uit elke hand geglip
Tot in die rak se wip
Want niemand was meer vir haar Luzzie
Bakbou en Watarra
In Kout de Wha het hy geBak, en bou
Onversetlik sy land gedompel in rou
Maar nou slaan Watarra
Die regerings kitarra
En Bakbou sal dans en dans tot hy’s flou
Joerie Gagarin
In sy spoetniek het cosmonaut Joerie
Gaan kyk of hy nie God kon beloer’ie
Maar net gees sien Gees
En vlees kan net Vrees
Vir die dag dat broer Dood nie meer sloer’ie
Man met die Dubbelloop
In my dorp loop daar ʼn jongman te koop
Met die idee hy had ʼn dubbelloop
want hy’t ʼn tweeling gehad
Maar was daarna gesmaad
Voorbehoed het sy koeëlsak gestroop
ʼn Franse Boerka
ʼn Gemaskerde dame van Stoerka
Het nêrens geloop sonder haar Boerka
Maar na Franse verset
Was die sluier belet
En bewet tot daar oorkant die Doerka
Ant Bekkie
Pasop my kletsmaats hier kom ant Bekkie.
Sy’s ongewens in elke gesprekkie
Kyk hoe spits sy daai oor
Om die stories te hoor
Vir ammunisie altyd ʼn plekkie
Ant Bekkie loop deurgaans van huis tot huis
En luister tog graag na elkeen se kruis
Sy kan fyn proe
En weet net hoe
Om stories te ruik wat ore sal suis
Ant Bekkie was baie lief vir die kerk
Veral Woensdae-biduur was dit haar werk
Om in haar gebede
Die lief en die lede
Aan die groot klok te hang en so die kwaad te sterk
Maar nou is die stem stil van ant Bekkie
Die hemelpoort ʼn versperde hekkie
Want die engele is bang
Vir die Skinder slang
Sy’t in die hel ʼn bespreekte plekkie
Jy’s Dydelik!
Ag hoekom word my Taal tog so ydelik
En Engelse woorde so verleidelik
Hulle sê jy is cool
Ek sê jy’s ʼn fool
Want Afrikaanse cool is Dydelik
Mojôla se Lobôla
Daar was ʼn groot media geraas
Rondom die kop van die krieket baas
Want mister Mojôla
Vat groot Lobôla
Hy’t sy bonus gehul in ʼn waas
Morsi innie Kaap
Die twintig-twaalf Farou het gedekreet: “Ek sallie lat djille met my Môsie!”
Die Egipte-narre het getoi-toi: “Ons sal’ie lat djy met óns Môsie!”
Ons diemaant: “T’rugtrek, t’rugtrek!
Ou Farou moes toe maar... T’rugtrek, t’rugtrek!
Oppie ou ent was Mohammet in ʼn nóg grote’ geMôsie!
ʼn Oscar vir Oscar
Ek had die wêreld met my lemme aan my voete, My Lady
Die wenpaal, mooie vroue, baie goete, My Lady
Maar my wiel het gedraai
My van alles ontlaai
Nou lê my lemme hier aan skerwe en ek boete My Lady
Valentynsnag het vir my tog so verander My Lady
My golf word toe ʼn piepkleine brander My Lady
En...My wyn word water
My liefde word later
Die sneller wat my lewe sou verander My Lady
My Lady ek vra tog: ontferm u oor my
My Lady verstaan tog: die tronk is nie vir my
U het mos tog geleer
Gedane sake het gʼn keer
My Lady kan maar als kry, selfs my Oscar... selfs vir My
Ernstige sake wat hier uit my gedagtes vloei, maar die limeriek digvorm het die vermoë om die swaard se lem so bietjie te temper sonder om die doeltreffendheid daarvan lam te lê. Indien jy wil gaan na die volgende Bladsy klik hier, maar indien jy wil terug na die Inhoud Opgaaf, klik hier.