DIE NUWE WERELD AFRIKANER
VOORWOORD
Ek dra hierdie artikel op aan alle mense in die wêreld wat die etiket "kleurling", of een van die vele variante daarvan, gedra het en steeds dra. Vir té lank was ons gereken as die uitgeworpenes van die gemeenskap, onaantasbare melaatses! Die tyd het aangebreek dat ons ons ware identiteit, wat die Duiwel van ons gesteel het, terug vat. Die tyd het aangebreek dat ons, wat trots gemaak is in die beeltenis van God, die boeie van vernedering breek wat ons toegedien is, deur die sogenaamde "wittes" en "swartes" wat veronderstel is om ons broers en susters in God te wees.
Die tyd is nou!
Op die 28ste September 2018 was dit PRESIES 100 jaar sedert die Veldslag van "Melaats" (Ypres) begin het op die 28ste September 1918. Hierdie artikel sal die eerste "skoot" wees wat sal klap in 'n Wêreld Oorlog wat die spirituele "melaatses", sowel as diegene wat hulle uitgeskuif het na die rand van die gemeenskap, vir eens en altyd sal bevry.
Hierdie oorlog gaan nie met gewere en ander wêreldse oorlogstuig gevoer word nie, "want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die bose geeste…" (Efe.6:12) wat die gedagtes van ons Mede broers en susters gekaap en weggevoer het. Vryheid vir die "kleurlinge" sal ook vryheid vir hulle beteken.
IN SUID AFRIKA
Lank, lank gelede, of soos hulle sê, in die goeie ou dae, lank nog voor die boosheid van kolonialisme, was die rustige kuslyn en die binneland van die Noordkaap, Weskaap en Oos-Kaap die idilliese paradys van die Khoi en San Stamme, die oudste inheemse bevolking van Suidelike Afrika. Maar, soos sonde donker wolke oor Eden laat opkom het, het daar ook donker wolke opgekom oor die horison van hierdie ongerepte aarde, toe die koloniste Suid Afrika “ontdek” het.
Hulle het vanuit alle windrigtings gekom. Die seevaarder stamme van Europa het met hul skietgoed gekom, diegene van midde Afrika het met hul assegaaie gekom... en hulle het die land met mag en krag afgevat, die inheemse stamme onderwerp en beperk tot laslappies grond, hulle ontneem van hul trots, hul waardigheid, ja, selfs hul identiteit en hulle gereduseer tot “kleurlinge”!
Die geweer was sterker as die assegaai, was sterker as pyl-en-boog! Dus, die Europese stamme het alles oorheers vir ongeveer vier eeue. Toe, in 1994, het die Afrika Stamme beheer geneem. (feitlik) Almal was in ekstase oor hierdie “Nuwe Demokrasie” wat dan nou kwansuis die wegraping sou wees vir die agtergeblewenes, maar, helaas, die blydskap het gou in droefheid verander en die droefheid het hulle wat die etiket “kleurling” om hul nekke gedra het wanhopig terug na hul liere laat gryp, om maar hul Klaaglied van ballingskap in hul eie land voort te sit.
Die tweede vlaag van kolonialisme is onderweg. Die modus operandi van die eerste kolonialiste was onteiening van die grond sonder vergoeding. Die huidige nasionale debat van onteiening sonder vergoeding is ‘n seker teken dat die Afrika Stamme rusteloos en ongeduldig begin word en hulle eis die grond... AL die grond!
Hulle het lank genoeg gewag. Maar, hoe dit ook al sy, noudat hulle beheer het oor die skietgoed (die Lugmag, Leër, Vloot, Polisie, Veiligheidsdienste) en die beursie van die nasie, is daar niks wat hulle voor skrik nie... nie eers die Konstitusie nie!
Verdeel en regeer was ‘n baie belangrike strategiese hoeksteen van Apartheid en die grootste rede waarom hulle vir so lank aan die mag kon vasklou. Die huidige verdeeldheid in “kleurling” geledere was en sal altyd die oorsaak wees waarom hulle nog nooit uit een mond kon praat nie, waarom daar altyd onder hulle diegene was en sal wees, wat in die opponerende regerende partye die posisie van die “kleurlinge” ondermyn.
Die tyd het aangebreek dat ons bymekaar moet kom, moet verenig, moet saamstaan, om ons identiteit wat van ons gesteel was deur die eerste vlaag van kolonialiste terug te eis. Die tyd het aangebreek vir die “kleurling” Arend om die boeie wat hom in minderwaardige lokasies vasgeketting het te breek, sy vlerke te sprei, en weereens te sweef bo die hemele van die Noordkaap, die Weskaap en die Oos-Kaap!
DIS MIDDERNAG!
In Suid Afrika noem die sogenaamde “wittes” hulself ‘n nasie en die sogenaamde “swartes” noem hulself ‘n nasie, maar die nageslag van die Khoi en San mense word behandel soos vuil badwater wat ons hier in die Kaap gebruik om toilette mee te spoel, en hulle noem ons die skeldnaam “kleurlinge”! Wat hulle nie besef nie, is dat onder hierdie Josefs kleed van vele kleure ‘n reuse Arend homself wegsteek en wag net op die regte tyd om sy vlerke te sprei en op te styg tot bo haar omstandighede!
Wat hulle nie weet nie, is dat God met hierdie “nasielose” volk ‘n plan gehad het van die begin van tyd af en Hy belowe die ander sogenaamde nasies: “Ek gaan julle jaloers maak op mense wat nie ‘n volk is nie, en julle kwaad maak oor ‘n volk wat nie julle kennis het nie.” (Rom.10:19, Deu.32:21)
Die nageslag van Vader Abraham het vir 430 jaar as verdruktes buite hul Beloofde Land geleef (Gal.3:17), voordat hulle die groen lig gekry het om Egipte te verlaat en die pad te vat na die “die Land van melk en heuning” toe. Die Khoi en San se nageslag was vir ‘n 100 jaar langer geduldig. Dit was in 2018 presies 530 jaar gelede sedert Bartolomeu Dias die Kaap “ontdek” het in 1488, en so die weg gebaan het om die vrye Suid Afrikaanse landskap in ‘n Egiptiese tronk-landskap vir die Khoi en San en hul nageslag te omskep.
Soos Paulus en Silas sing ons nou al vir baie lank reeds ons lofsange vanuit hierdie tronk-landskap en ons gebede styg al vir eeue op na God. Maar, skep moed! Middernag is op ons en God gaan Suid Afrika tot in sy fondamente skud en die tronkdeure laat oopswaai en die “Kleurlinge” se boeie breek (sien Handelinge 16) want Hy sê:
“Ek het duidelik gesien die ellende van my “Kleurling” volk wat in Suid Afrika is; en Ek het hulle jammerklagte oor hulle drywers gehoor, ja, Ek ken hulle smarte. Daarom het Ek neergedaal om hulle uit die hand van hul verdrukkers te verlos en hulle te laat optrek uit hulle verdrukking na ‘n goeie en wye land, na ‘n land wat oorloop van melk en heuning, na die bewese woonplek van die Khoi en San... En nou, kyk, die jammerklagte van hul kinders het tot by My gekom. Ook het Ek die verdrukking gesien waarmee agtereenvolgende regerings hulle verdruk het.
Gaan dan nou heen. Ek stuur jou na die Suid Afrikaanse regering om my mense, die sogenaamde “Kleurlinge”, uit te lei uit hierdie Egiptiese landskap ”
(Geïnterpreteer en aangepas vanuit Eks.3:7-10)
ONS WARE IDENTITEIT
Dit is vreemd, maar waar, dat ons met die “Nie-Nasie” status, wat verwys na word as “kleurling”, inderdaad ‘n baie spesiale identiteit het en die tyd het aangebreek dat ons dit terug eis. Hier in Suid Afrika het ons ‘n Eersgeboortereg wat van ons gesteel was deur ‘n wafferse eindtyd Jakob!
Maar, moenie kommer nie. Ons San gene maak van ons uitmuntende spoorsnyers en ons sal baie gou agter die kap van die byl kom van ons ware identiteit, as ons op die spore teruggaan van Afrikaans en die Afrikaner en ons ignoreer die vals spore wat die sogenaamde “wit” historici gestrooi het, om ons in die donker te hou.
AFRIKAANS EN DIE AFRIKANER
Alhoewel Afrikaans die baba-taal van die wêreld is, is die oorsprong van haar biografie en die van die Nuwe Afrikaner, soos die res van die wêreld se “tonge en nasies”, ook maar die bou van ‘n sekere toring. Daar is geskrywe dat die voor-Babel mensdom net een taal en een identiteit gehad het en hulle het so sterk en magtig geword dat die Here die volgende oor hulle te sê gehad het: “Hier is hulle een volk en almal het een taal. Hulle het nog maar net begin om iets te doen. Hierna sal niks wat hulle beplan vir hulle onmoontlik wees nie.” (Gen.11:6)
Maar helaas, die tyd was nie reg nie, en God het besluit om Babel (dit beteken verwarring) oor hulle te uit te giet. Daardie aksie het die horlosie baie eeue teruggedraai vir die mensdom. Elke groepie het maar sy stukkie van die legkaart geneem en na hulle eie ou hoekie van die wêreld gegaan waar hulle weer van oor af vuur moes ontdek en die wiel herontwerp.
Intussen het die sand in die uurglas begin uitloop vir die wêreld. Groepe het mekaar begin vind, begin om nuwe gemeenskappe te bou. Hul gestotter het bymekaar gekom en nuwe tale geword en uit die tale is nuwe nasies gebore. Alhoewel hulle van verskillende uithoeke van die wêreld gekom het, het hulle hul talente saamgesnoer en verenig rondom een Taal, een Vlag, een Volkslied en een Vaderland.
DIE SAMEVLOEI IN SUID AFRIKA
In Suid Afrika het dinge nie veel anders verloop nie. Hier aan die voet van Afrika het die Khoi en San Stamme gemaklik met hul nomadiese lewens voortgegaan, totdat die eerste skepe die see-horison oopgebreek en die skepe kom anker gooi het. Suid Afrika was “ontdek” en die seevaarders het hul oorwinnaars vlae geplant en dinge sou nooit meer dieselfde wees aan die mees suidelike punt van Afrika nie.
Kort voor lank het ‘n stroom setlaars kom uitmond. Dit was Hollanders, Duitsers, Franse, Bataviërs, Afrikane, (die lys is oneindig!) ... en toe, maar natuurlik, die Engelse! Dit was ‘n raar mengsel van base en klase.
Hulle wat dit gehad het, het hul eie vlae, volksliedere, simbole, godsdienste, maniere en meer kom uitpak en ten toon stel. Maar, daar was ook ‘n gemene deler wat Moeder Natuur kwistig aan almal geskenk het, om te help met hul samesyn – Die drang om met mekaar te kommunikeer bo, sowel as onder die komberse.
Onder die komberse het dinge klopdisselboom verloop (hoe dan anders!), want baie gou het die vermenging van stamme ‘n rasegte Afrikaner Nasie voortgebring, mense met verskillende agtergronde, maar “gemaak in Suid Afrika” spesifiek vir die toestande in die mees suidelike deel van Afrika.
KAAPS
Die oorbrugging van die kommunikasie gaping bokant die kombers was minder gemaklik. Die eerste setlaars het van Europa gekom en het dit moeilik gevind om die tong-klap taal van die Khoi-San aan te leer. Dit het beteken dat die Gashere die tale van die gaste moes leer. Met Hollands die oorweldigende taal van die setlaars, was dit net natuurlik dat die Khoi-San dit sou leer, en hoe het hulle dit nie gedoen nie! Begeesterd en gemaklik, wat net bewys dat die Khoi-San beter ontvanklik was vir ‘n vreemde taal as hul Europese eweknieë. Daardie tyd het Khoi-San woorde ook begin inglip in die gesprekke.
Desnieteenstaande, daar was destyds ook ander tale gebesig hier in die skadu van Tafelberg. Die teenwoordigheid van veral Maleis onder die slawe was aansienlik. Almal het iets vir en oor almal te sê gehad. Aanvanklik was dit moeilik, maar die mens se vindingrykheid het weereens geseëvier. Hollands het sy hoog-dawerende baadjie uitgetrek en ‘n ligte Kaapse windjakker aangetrek. Sommer gou was ‘n Kaapse Fanagalô in volle swang.
Nou kon die base en die klase beter met mekaar kommunikeer, sowel as klase en klase, selfs base en base (die vreemde woorde het kom nes skop). Die Fanagalô was selfs gedoop: Dit was “kombuistaal”, of sommer net “Hotnotstaal”!
Die base het goed begin kommunikeer met die klase in Kaapse Fanagalô. Kom ons noem dit sommer net KAAPS. En as die base iets privaat wou sê vir die meide, of die merrims vir die boys, het hulle dit in Kaaps gedoen. Maar, in uitsoek geselskap was Kaaps een groot taboe! In die kerk, sy Bybel en as hy met sy God praat, dan was dit in hoog Hollands (hoe kon dit anders wees!). Die base se kinders, die klase en hul kinders het geensins sulke probleme gehad nie. Hulle het in Kaaps gekommunikeer.
Intussen het Kaaps begin om spoed op te tel. Dit was die lingua franca van die Kaap en die Kaap het al hoe minder Hollands geword as wat die Hollanders dit sou wou hê. Die Afrikaner-bevolking aan die Kaap het met rasse skrede gegroei en Kaaps het begin Afrikaans word. Die vraag oor wie eerste was, die eier of die hoender, kan miskien in ander kringe bespreking uitlok, maar nie met Afrikaner en Afrikaans nie. Die klein Afrikanertjies was eerste daar en Afrikaans as hul taal het op hul hakke gevolg.
O GENADE, DIE ENGELSE!
Omtrent daardie tyd het daar iets onrusbarend gebeur in die Kaap – Die Engelse het gekom en die aarde geskud. As jy wou hê ‘n Hollander se bloeddruk moet hoër opskiet as Tafelberg, sê net die woord: Engelsman! Dit moes seker die voorgevoel wees wat hulle gehad het wat die Engelsman met hulle sou doen met die draai van die eeu. Vir die Hollanders was die Engelse niks anders as net militante, magshonger, landhonger pestilensies nie, altyd op soek na baklei.
Die Hollanders het so ‘n hunkerende trek in die oë begin kry en dit het kompleet gelyk of die binneland van die Kaap vir hulle gewink het. Kort voor lank was die ossewaens gelaai met die touleiers voor en die meide en volkies agter en die Boere het die Groot Trek na die noorde begin, maar daar was ‘n ongenooide gas wat ewe onopsigtelik saam getrek het: Afrikaans! Die klase was ook deftig uitgevat in hul Afrikaner baadjies, maar kort voor lank sou die base daardie baadjies afvat en dit self aantrek.
In die binneland het dit goed gegaan met die Hollanders. Hulle was nou Voortrekkers en baie goeie boere. Hulle het hul gebiede afgemerk en hul republieke uitgeroep, maar o wee! Daar was goud diamante en ander minerale versteek en kort voor lank was die Engelse ook op pad na die noorde toe. Die res is geskiedenis, soos hulle sê.
Die Voortrekkers was letterlik in sak en as, maar soos Job van ouds het hulle weer opgestaan. Maar nou het hulle die Engelse met ‘n passie gehaat en hulle wou die grootste afstand moontlik tussen hulle plaas. Op die grond kon hulle dit nie doen nie, want die Engelse was die base, maar hulle het met ander oë gekyk na die Hotnotstaal en die Afrikaner baadjies wat die klase gedra het...
JY MAG MAAR STEEL?
En op een goeie dag het dit gebeur asof dit die natuurlikste ding in die wêreld was. Hulle het die Afrikaners geword en Afrikaans het hulle taal geword. Skielik was hulle ‘n nasie op sigself en die Hollandse naelstring (kammalaaik!) geknip! En om alles mooi netjies te verpak het hulle die “Genootskap van Ware Afrikaners” gestig en begin om alles eksklusief te maak.
- Hulle het die Bybel in Afrikaans vertaal.
- Hulle het die Afrikaanse woordeboeke saamgestel.
- Hulle het die grammatika reëls opgestel.
- Net die Afrikaans wat hulle gepraat het was Standaard Afrikaans. Al die ander mense se Afrikaans was gereduseer tot dialekte.
- Hulle was eksklusief Afrikaners. Ander Afrikaanssprekendes was enigiets genoem behalwe Afrikaners. Dit was neerhalende terme soos kleurling, hotnot, boesman, gemeng, kaapse-kleurling, ander kleurling, ‘n volk in wording en ander veragtelike terme.
Intussen het hierdie Neo-Afrikaners die base geword en hulle het met die swaard en ‘n ysterhand regeer. Hulle het geglo dat die Apartheid wat hulle bedryf het ‘n Goddelike instituut was. Maar uiteindelik moes hulle ook maar die knie buig voor die Woord van God wat sê: “Alles het sy bepaalde tyd en vir elke saak onder die hemel is daar ‘n tyd.” (Pre.3:1)
So, daar was dus ‘n tyd vir Apartheid, maar dan het daar dan ook weer ‘n tyd aangebreek dat hierdie valse “Afrikaners” die septer moes afgee. Dit het hulle wel gedoen, maar baasskap oor Afrikaans en Afrikaner prysgee? Soos Saggéüs vrywilliglik viervoudig teruggee wat hy onwettiglik geneem het? Ek wil nie graag die cliché “nooit” gebruik nie, maar ek sal sê: Kom ons wag en kyk...
DIE BESKAMING GAAN MAAR NET AAN...
- Ek lees in ‘n artikel dat Dr. Alan Boesak uitgesonder was saam met Lourens van der Post en Charlize Theron as besondere Afrikaners, maar die ras-gestigmatiseerde smeerwoord “kleurling” word agter sy naam ingevoeg! Hoekom?
- Afrikaanssprekendes van “kleur” word na verwys as “Afrikaanses” om tog net asseblief ‘n onderskeid te maak met Afrikaners. Hoekom?
- Hoekom weer trap in die slagyster van verdeel? Hoekom dan nie maar net weer die ou Apartheid borde afstof en herskryf “Afrikaner” en “Nie-Afrikaner” nie?
- Is Apartheid dan so diep in ons siele ingebrand dat dit onmoontlik geword het om die boeie te breek? Ons hou dan aan om hierdie gedrog te voed en aan die lewe te hou en te pleeg, selfs met Apartheid af van die wetboeke! Hoekom?
Daar was glo destyds ‘n halfhartige poging aangewend om “kleurlinge” te oorreed om die term “Afrikaner” aan te neem, maar dit het misluk! Hoekom? Baie het geweet dit sou maar net “window-dressing” wees, amper soos die Japanese wat “ere-blankeskap” ontvang het. Baie het geweet dit sou maar weereens net Afrikanerskap op Voortrekker voorwaardes wees en nie gegrond op die waarheid van hul opstaan uit die voet van Afrika nie.
Vir almal was die wederregtelike ontneming van hul identiteit en waardigheid en die verbouereerde en pynlike spotname wat hulle vir so lank soos doringkrone moes dra en soos kruise moes saamsleep een te veel, en dit het hulle ontoeganklik en skepties gemaak!
Om Afrikaners te verenig gaan een steil en moeilike pad wees, maar “as God vir ons is, wie kan teen ons wees?” (Rom.8:31) Ja, dit sal baie opvoeding verg aan al die kante van al die skeidslyne, maar dit gaan op die lange duur die moeite werd wees, as ons die vrugte van ‘n verenigde nasie gaan pluk en eet, en die agting en respek van die res van die wêreld ontvang.
VAN MY HART TOT VOORTREKKER HART...
En nou wil ek so ‘n bietjie reguit praat met my mede-Afrikaners, hulle wat stam uit die bloedlyn van die Voortrekkers. Onthou, die Duiwel is die Vader van die Leuen! Moenie langer loop, eet, slaap en leef met hierdie leuen nie. Kom uit hierdie hipnotiese spel waaronder die Vyand julle geplaas het. Moenie julle Mede broers en susters langer van hul Eersgeboortereg vervreem nie. Maak soos Jakob en Esau vrede en gee, soos Saggéüs, met ‘n blye hart terug wat aan hulle behoort.
Logika en rede sê dat julle NOOIT Afrikaners kan wees nie. Julle oorsprong is die Nederlande. Julle het julself eenkant gehou en vir sover as wat Moeder Natuur julle toegelaat het, met geen ander as net “wit” stamme gemeng nie. Hulle wat dit wel gedoen het is in die kloof geboender, wat “wit” en “swart” van mekaar skei en een van die baie “kleurling” variante genoem.
Julle was so ernstig daaroor om “rasegte” Europeërs te bly, dat julle so ver gegaan het om duiwelse wette so reg uit die hel te broei, soos die “Wet op Gemengde Huwelike”, die “Groepsgebiede Wet” ens., nogal met die Bybel in die hand! As boere was julle meester telers om die bulle en koeie van die inheemse Afrikaner rasse van jul ingevoerde Friesbeeste weg te hou met jul “Wet op Aparte Geriewe” en toe, ewe skielik, wil julle DIE Afrikaner word?
Verregaande! Logika sê julle was Voortrekkers, julle is nog steeds Voortrekkers, en julle sal bly aan om “voort te trek”, tensy julle hande vat met die sogenaamde “kleurlinge” en EEN Nasie van AFRIKANERS word, saam met alle ander mense wat kom nes skop het in die binneland van die Noordkaap, Weskaap en Oos-Kaap, in een Afrikanerland.
Dink aan al die positiewe voordele van so ‘n aksie (daar is geen negatiewe nie). Dink aan die blydskap in die hemel as Afrikaner broeders en susters REGTIG kan saamwoon. Moenie jul geskiedenis langer in die kantlyn skryf nie. Dink EX UNITADE VIRES! Dink daaraan hoe ‘n verenigde Afrikaner nasie die res van ‘n verskeurde wêreld uit ‘n Babiloniese chaos-wêreld kan lei terug na ‘n voor-Babelse realiteit van EEN Mensheid en die wyse woorde van die Here weereens oor die aarde sal weergalm: “Nou sal niks meer vir hulle onmoontlik wees van wat hulle van plan is om te doen nie.” (Gen.11:6b)
Die tyd het aangebreek dat die “Kleurling” Arend met die geknipte vlerke herstel en gesond word en dat al die wortels bymekaar moet kom om die Afrikaner Arend te word. Die tyd het aangebreek dat hierdie formidabele Arend sy vlerke moet sprei en vlieg oor haar grondgebied, haar Beloofde Land wat eers deur die Khoi en San mense en later die Voortrekkers en ander intrekkers afgemerk was deur daaroor te trek soos Vader Abraham van ouds. Net soos Vader Abraham in tente gewoon en die Beloofde Land afgemerk het vir sy nageslag, het die Khoi, San, Voortrekkers en ander intrekkers ook Afrikanerland afgemerk vir hul nageslag, die opreggeteelde Ware Afrikaners.
Desnieteenstaande, daar is sekere basiese dinge wat ons met mekaar moet deel oor die Afrikaner, haar Identiteit en haar land:
- Taal: Afrikanerland se Moederland-tong en Eerste Taal sal die Afrika Taal Afrikaans wees, as gevolg van haar inheemse status. Die Tweede Taal sal Engels wees vanweë haar internasionale status. Hierdie twee tale sal nasionale status geniet. Die Derde Taal vir alle Afrikaners sal ‘n streekgebonde Afrika Taal wees, met betrekking tot watter Afrika Taal in ‘n bepaalde streek genaturaliseer het. Suid Afrikaanse Gebaretaal sal ook as ‘n Vierde Taal bevorder word. Marginale tale sal ook in die streke spesiale aandag geniet. Die grootste beweegrede is die vernietiging van Babel. Ons moet leer om mekaar te verstaan. Vervreemde Afrikaners in die diaspora word genooi om terug te immigreer na Afrikanerland, om as Afrikaners te kwalifiseer.
- Wortels: Afrikaners grawe nie wortels oop nie. Die afkoms van elke Afrikaner is belangrik, want ons geskiedenis in ‘n onuitwisbare realiteit. Maar, baie belangrik, ons moet ons herkoms vergelyk met die wortels van ‘n boom – dit is versteek onder die oppervlak. Dis ‘n feit dat ons afkoms verskillende geografiese en geskiedkundige agtergronde behels, maar bokant die grond is ons net een Afrikaner Boom. Daarom sal Afrikaners (die Boom bogronds) nooit praat van “wit-, gekleurd- of swart- Afrikaners”, of enige ander etikette gebruik om na Afrikaners te verwys nie. Elke inwoner van Afrikanerland is ‘n Afrikaner. PUNT! Daar sal wel ‘n dag afgesonder word vir Afrikaners om hul erfenis te vier en hul oorsprong-kultuur en wortels op skou te sit vir almal om te geniet.
- Godsdiens: Afrikaners kan van enige godsdienstige oortuiging wees. Die samebinding-faktor is Afrikanerland. Afrikaners kan Christene, Moslem, Joods, Hindoe, Boeddhis, Ateïs wees, of behoort tot enige Afrika godsdiens, of enige godsdiens van hul keuse. ‘n persoon se godsdiens is ‘n persoonlike saak en dit sal alle Afrikaners respekteer.
DIE AFRIKAANS VAN AFRIKANERLAND
Oor Afrikaans het ek ook ‘n stuiwer in die armbeurs te gooi. Huidige Afrikaans was deur die Voortrekkers geannekseer. Slegs hulle en hulle alleen het besluit hoe Afrikaans daar moet uitsien, die grammatiese reëls, die woorde en uitdrukkings, spelreëls, ens. Dit sal moet verander. ‘n taal kommissie komende uit al die wortels van Afrikanerland sal in die lewe geroep moet word om Afrikanerland se Moedertaal te hersien.
Die Hollandse naelstring sal moet gesny word!
Alle vloekwoorde, neerhalende woorde en terme, omslagtige vertalings, ens., moet uitgesny word en meer algemene en gewilde streeks-Afrika woorde en sêgoed soos vanuit isiXhosa, Venda, Sotho ens. moet ingesluit word in die Nuwe Afrikaans.
Dit beteken dat Standaard Afrikaans, d.w.s die Afrikaans waarin daar geskryf, gepreek, gestudeer, toesprake gelewer ens., word gaan ‘n swierige omhelsende Taal wees, terwyl die Gesproke Taal meer ontspanne kan wees. Afrikaans moet ‘n lieflike maklik-vloeiende taal wees wat Afrikaners moet verenig en aanspoor tot nuwe hoogtes, sodat Afrikaners die wêreld kan aanspoor om die Babel-sindroom vir goed af te skud.
‘n BEGRAFNIS VIR APARTHEID
Daar is nog veel meer te sê oor hierdie splinternuwe Afrikaner nasie, maar dit sal moet wag dat ons net eers die bal aan die rol kan sit. Dinge soos ‘n Regsisteem wat almal absoluut onder een kam skeer, wat waarlik die burgers wat die pad byster geraak het sal hervorm, moet in plek gestel word in Afrikanerland.
Apartheid was in 1994 in ‘n ernstige ongeluk betrokke met die aanbreek van ‘n “nuwe” bedeling maar onmiddellik aan lewens-ondersteunings toestelle gekoppel. Die tyd het aangebreek dat die masjiene afgeskakel en ontkoppel word en dat Apartheid ‘n volwaardige staatsbegrafnis moet kry en vir goed begrawe word deur almal wat gely en baklei en gestry het vir, sowel as teen die Monster. Dít sal Apartheid in die res van die wêreld se hart uitruk en daar ook binnekort net tot die geskiedenis-boeke beperk.
DIE GOUE REËL
In Afrikanerland is politiek uitgedien. Met ander woorde, alle politieke instansies sal verwyder word en die parlement sal vervang word met ‘n Konstitusionele Kommissie wat alle wette sal vervang met ‘n nuwe Konstitusie. Hierdie Konstitusie sal op geen godsdienstige handves of geskrifte gebaseer word nie, maar alleenlik op die gebalanseerde skaal van Die Goue Reël.
‘n Dualistiese regeringstelsel gaan in die lewe geroep word.
AFRIKANERLAND, DIE EERSTE HOOFSTUK
VAN ‘N NUWE WÊRELD ORDE
Die na-COVID19 wêreld is op die drumpel van ‘n nuwe bedeling vir alle mense asook vir die res van die planeet as een interafhanklike ekologiese sisteem. Die besondere geskiedenis waardeur Suid Afrika gegaan het, het haar uiters geskik gemaak om hierdie Nuwe Wêreld Orde te inisieer, en daar is absoluut niks en niemand wat enigiets kan doen om te keer dat God se Wil geskied nie, want dis ‘n plan wat reeds voor die bou van die Toring van Babel in die voorafbepaalde geskiedenis vir die mensdom ingeskryf is.
Ons is waarlik bevoorreg dat God juis vir ons hier in Suid Afrika uitverkies het om oor alle grense heen hande te vat en so kleurgrense te breek en alle vorme van diskriminasie met wortel en tak uit te roei. Mag die Here ons help dat ons die stryd binne onsself sal begin en alle vooroordele sal oorwin en dat die gevolglike rimpelings op die see van mensheid ‘n reuse brander sal word, wat die Kroon van God se skepping op sy kruin sal dra, die toekoms in.
“Ek gaan julle jaloers maak op mense wat nie ‘n volk is nie, en julle kwaad maak oor ‘n volk wat nie julle kennis het nie.” (Rom.10:19, Deu.32:21)
Tans is die bewoners van Afrikanerland nog nie ‘n Volk nie, eerder ‘n “volk in wording”, nie regtig iets wat die res van die wêreld sal groen van jaloesie maak nie, maar wag net maar tot ons hande vat...
God met Ons,
Amen.
‘n Dualistiese regeringstelsel gaan in die lewe geroep word.
- ‘n Tegnokrasie wat alle sekulêre dienste sowel as die sekulêre lewens van almal in Afrikanerland sal bestuur.
- ‘n Teokrasie wat alle godsdienste in Afrikanerland onder een sambreel sal verenig, soos EEN Universiteit met verskillende onafhanklike fakulteite.
AFRIKANERLAND, DIE EERSTE HOOFSTUK
VAN ‘N NUWE WÊRELD ORDE
Die na-COVID19 wêreld is op die drumpel van ‘n nuwe bedeling vir alle mense asook vir die res van die planeet as een interafhanklike ekologiese sisteem. Die besondere geskiedenis waardeur Suid Afrika gegaan het, het haar uiters geskik gemaak om hierdie Nuwe Wêreld Orde te inisieer, en daar is absoluut niks en niemand wat enigiets kan doen om te keer dat God se Wil geskied nie, want dis ‘n plan wat reeds voor die bou van die Toring van Babel in die voorafbepaalde geskiedenis vir die mensdom ingeskryf is.
Ons is waarlik bevoorreg dat God juis vir ons hier in Suid Afrika uitverkies het om oor alle grense heen hande te vat en so kleurgrense te breek en alle vorme van diskriminasie met wortel en tak uit te roei. Mag die Here ons help dat ons die stryd binne onsself sal begin en alle vooroordele sal oorwin en dat die gevolglike rimpelings op die see van mensheid ‘n reuse brander sal word, wat die Kroon van God se skepping op sy kruin sal dra, die toekoms in.
“Ek gaan julle jaloers maak op mense wat nie ‘n volk is nie, en julle kwaad maak oor ‘n volk wat nie julle kennis het nie.” (Rom.10:19, Deu.32:21)
Tans is die bewoners van Afrikanerland nog nie ‘n Volk nie, eerder ‘n “volk in wording”, nie regtig iets wat die res van die wêreld sal groen van jaloesie maak nie, maar wag net maar tot ons hande vat...
God met Ons,
Amen.