DIE NAALD WAT IN GOD SE OOG STEEK
Aan die voet van Afrika het ʼn Babelse menigte gekonglomereer en uit daardie gebrabbel en gekrabbel is ʼn nuwe Kultuur en Taal gebore: Die Afrikaner en Afrikaans. Maar dinge was nie bestem om so eenvoudig te wees nie. Die Afrikaner verwysing was deur die Voortrekker subkultuur groep gekaap en daarmee saam het hulle Afrikaans as hul primêre besitreg gedefinieer en die ander subkulture gesubklassifiseer as “anderskleuriges” en hul Afrikaans gereduseer tot sekondêre linguistiek.
Wat die amptelike volksmond in Suid-Afrika betref het Afrikaans egter in Engels se skaduwee rondgeloop. Maar Afrikaans en Engels het swaarde gekruis. Na ʼn gedugte stryd was die swaarde terug in die skedes, Afrikaans het erkenning en offisiële status gekry en om dankie te se aan die God van Tale was ʼn monument ontwerp en gebou op die Berg in die Paarl.
Fier en trots staan Sy daar
Die Naald wat die Afrikaner met God verbind
Die Naald wat vertel van Babel se laatlam kind
En so werk ek baie jare gelede as klein bouer aan ʼn ou Voortrekker tannie se huis. Sonder enige voorbedagte rade beland die gesprek by die Taalmonument en sonder enige bybedoeling spreek ek die wens uit om ook binnekort daar by ons monument te gaan besoek aflê. Maar dit was asof ek, matador, ʼn rooi doek onder ʼn Spaanse vegbul se neus geswaai het: “Julle kleurlinge wil ook alles besoedel en bevuil. Wat wil jy daar by ons blankes se monument gaan maak. Hoekom bou julle nie jul eie taalmonument daar op die Kaapse Vlakte nie! ...Verdomp!”
Ek was oorbluf en totaal verstom en het maar stilswyend die belediging gesluk en aangegaan met my werk totdat ek vir haar totsiens gesê het. Ek kon dit egter nooit regkry om afskeid van haar bittere snydende woorde te neem nie, woorde wat daarna soos tinnitus voortdurend in my ore sou suis, veral as ek die Paarl besoek of daar verby gery het.
Fier en trots staan Sy daar
Die Naald wat Afrikaners met mekaar moes verbind
Maak die Voortrekkers die Taal se enigste Kind
Daar het baie water in die see geloop sedert ek vir die laaste keer die voortrekker tannie se werk-stof van my voete afgeskud het. Die landskap het verander, die politiek het verander, die amptelike tale het van twee tot elf aangegroei, en selfs die Taalmonument het “anderskleuriges” begin akkommodeer. Maar, die Taal en sy monument kon nooit regtig die grense afskud nie.
So het die twee maar hand en hand deur die jare voortgekuier deur die rasse grense, al was daardie grense wel later nie meer so opsigtelik nie. Verskillende kulturele afkomste was al daar uitgestal. Selfs neef Jassie en sy rieldansers gaan gereeld daar stof opskop. Ongelukkig is die rolverdeling maar steeds rasverdeling. Dit bly maar die Afrikaners en die “anderskleuriges” en nie, soos dit behoort te wees, Afrikaners van Voortrekker afkoms, Afrikaners van Koi afkoms, Afrikaners van Nguni afkoms ensovoorts nie.
Hartseer en weemoedig staan Sy daar
Die Naald wat moes uitroep: “Eendrag maak Mag!”
Ontsê die wêreld ʼn onverskrokke Krag
Die monument gee erkenning aan die invloed van die Afrika tale op Afrikaans in die vorm van drie koepeldak rondawel-tipe hutvormige konstruksies. Die simboliek wat die invloed van Arabies en die Maleiers op die vorming van Afrikaans uitgeoefen het is egter baie sinister. Dis ʼn muur wat spreek van die buffer tussen “swart” en “wit”, skeiding en afsnyding en gewy aan die “gekleurdes”. Die Europese “brug” is baie meer opvallend en tipies van die eertydse denkwyse wat Afrikaans met die Voortrekkers en veral Nederlands met mekaar verbind het.
Maar dan die twee hoofsuile.
Die hoogste een is veronderstel om die groei in Afrikaans-sprekers te verbeeld, maar dit is in werklikheid die hoë beeld wat Afrikaners van Voortrekker afkoms van hulself gehad en steeds het. Dit herinner aan die Nebukadneser beeld. Almal moet voor die “blanke” Afrikaner kom buig of die vuuroond is dalk jou voorland! Die kleiner suil onderstreep hierdie gedagte. Dit beeld die politieke opset van Suid-Afrika uit. Die twee suile staan in een poel water om hul eensgesindheid te simboliseer: Die “blanke” Afrikaner en sy bedmaat en beskermheer, die politieke Suid-Afrikaanse landskap – Apartheid!
Dis vinkel en koljander, die een is soos die ander. ʼn Wysvinger en ʼn duim wat in die lug opgesteek word om die God van die hemel uit te daag en uit te tart met die boosheid verwek deur die duiwel en gebore uit die hel! Dis ook nie om dowe neute dat die inwyding van die Taalmonument plaasgevind het in die honderdjarige bestaansjaar van die “Genootskap van Regte Afrikaners” nie. Dit onderstreep weereens wit baasskap, wit oorheersing. Jy’s of wit of niks!
Uitdagend en uittartend staan Sy daar
Die wysvinger en duim reik uit na God
Die ander drie vingers na Afrikaner uitskot
Met die oorgang na demokrasie in Suid-Afrika het Nelson Mandela gemaan: “Moenie die geboue, die polisiekantore, die howe, die parlementsgeboue ensovoorts afbrand nie. Dit is julle eiendom. Julle moet net eienaarskap daarvan neem.” Watter wyse woorde. Dit geld egter nie vir die Taalmonument nie. Dis ontwerp deur die blankes vir die blankes. Geen ander Afrikaans sprekers het daarin enige sê gehad nie.
Die naald wat in God se oog steek moet verwyder word. Nebukadneser se beeld moet afgebreek word. Die perseel moet weer terug aan die natuur gegee word. Daar moet nuut besin word oor ʼn nuwe Taalmonument vir Afrikaans wat die Taal en sy sprekers, alle Afrikaners, ten volle eer sal betoon en verenig.
En die nuwe perseel vir so ʼn monument? Ek dink die Voortrekker tannie was ʼn profeet! Waar sal jy nou vir jou ʼn beter permanente verblyf kan indink vir die Afrikaanse Taalmonument as juis die Kaapse Vlakte, kernpunt van die sogenaamde uitskot “kleurling” Afrikaners en ware bakermat van Afrikaans.
Amen? Dit hang af. Hierdie is maar net my siening oor die Taal Monument. Daar mag ander wees wat saam met my stem, maar dan sal daar beslis diegene wees wat hewig met my verskil. Miskien kom daar ander voorstelle oor hoe om die gewelddadige invloed van Apartheid op die Afrikaanse Taal te elimineer en dit so weerspieël in die Taal monument. Ek wonder wat sal ‘n referendum deur die volle spektrum van Moeder Afrikaans se sprekers op die tafel sit.
Hierdie is ‘n ernstige saak en ons as Afrikaners moet deeglik besin oor die pad vorentoe. Die vraag is: Wil ons waarlik Gods gegronde vrede van vereniging sluit tussen Broers, of is ons maar doodtevrede om die huidige status quo van ‘n gedwonge skietstilstand te handhaaf en met sulke onsekerheid die toekoms in te strompel?
Klik hier vir die volgende Bladsy en indien jy wil terugkeer na die Inhoud Opgaaf, klik hier