DIE GENADE VAN DIE HERE
Die Genade van die Here
Die Genade van die Here
Is genoeg vir my
Dis die Woorde wat my help
Om staande te kan bly
As die lewensstorme dreig
Om my van koers te kry
Is die Woord van Sy genade
Weer genoeg vir my
Want so gou kan ek vergeet
Sy Genade kom deur Sy leed
Om ‘n koningskind te kan wees
Moet ek leer om myself te verloën
Om ‘n koningskind te kan wees
Moet ek loop met my kruis na my kroon
Om ‘n koningskind te kan wees
Moet ek wil dat Sy Gees in my woon
Die Genade van die Here is genoeg vir my
Die Genade van die Here
Mag ek nie verag
Dis Sy liefde wat my dra
Deur die donker van die nag
In my swakheid staan Hy by my
Gee my nuwe krag
Om met blydskap in my stryd
Hier op Sy koms te wag
(Dankie vir die idee Seppie Andries)
Vandag
Ek slaan my oë op na die kruis langsaan my
Vir hulp om my aardse naelstring te sny.
My skuldbewys
Bo my, aan die kruis.
Maar Hy is onskuldig gehoon en kasty,
Sodat ek deel in Sy Ryk kan kom kry.
Immanuel, Kroonprins U is geyk
Om die troon te bestyg in Gods Koninkryk.
In U laaste wee
Wyl U die Gees gee...
En hul my bene breek dat ek moet beswyk
Dink aan my as Broer Dood my bestryk.
Ek glo Here Jesus, U het die Mag
Om sterwend te kan sê: Vandag
Sal ek verseker
Drink uit U beker
Dan gaan ek met U waar Paradys wag.
Ja alles gebeur voorwaar nog ‘Vandag’!
Ek en Jy en Hy
Ek en Jy en Hy...
Ons drie saam het gegaan
Op ‘n bootreis tot by Ararat.
Daar het ons mekaar verlaas gegroet;
Ons het elkeen
Maar sy eie koers gevat.
Baie eeue het verby gegaan.
Uit die oog was uit die hart.
Tog was daar vir ons ‘n weg gebaan
Wat weer daar voor ineen sou slaan
Aan die suider punt van Afrika.
Ek en Jy en Hy...
Die tyd het ons verander, en...
Ons het mekaar nie meer herken.
Daar was wel trekke na mekaar,
Maar die verskille het uiteindelik gewen.
Ag, ons het mekaar so seer gemaak,
Ons het so mekaar gehaat!
O, sal Iemand tog ons oë oopmaak
Dat ons as broers die stryd sal staak,
Die byl begrawe, vrede maak.
Ek en Jy en Hy...
Kom ons word een
Net soos voorheen
Weer kinders van pa Noag.
Kom ons vat hande
En wis uit die skande
Van onbevare Eendrag-Mag.
Kom ONS woon lieflik saam
Soos dit broers betaam
En stap saam in ‘n nuwe dag.
Kom Ek en Jy en Hy
Word weer
Sem en Gam en Jaffy?
Dis nie so maklik nie
Heer, ek wil streef
Om tog volmaak te leef.
Heer, soos U vra
Soos ons die einde sien nader
Om volmaak te wees
Net soos ons hemelse Vader.
Maar Heer dis nie so maklik nie
Getrou wees is nie my sterk punt nie
Om kwaad te wees is my natuur
Begeerte voed my lewens vuur
Want ag, my oog laat my struikel
My hand laat my dikwels val
Maar om hul af te kap en weg te werp
O Heer, dis nie so maklik nie.
Heer, ek wil streef
Om tog volmaak te leef
Heer soos u vra:
Lig een teen my dalk die hand
Om die ander wang te draai
Maar ek eis ‘n oog vir ‘n oog,
‘n Tand vir ‘n tand
O Heer dis nie so maklik nie
My kleed kan ek nie afstaan nie
Dis moeilik om my goed te gee
En ek laat my nie dwing
In ‘n myl of twee
My naaste liefhê... dis maklik
My vyand haat... dis vir my!
Maar U sê ek moet my vyand liefhê
O Heer dis nie so maklik nie.
Maar Heer as ek die pad aanskou
Wat U moes loop om my voor te hou
Aan die Vader op die hemel troon
Stel U my onberispelik skoon
Dan weet ek Heer dat die Vader
Deur U na my, sondaar, kyk
En wat Hy daar in my swakheid sien
Dit is dan hoe volmaaktheid lyk
Nou kan ek streef
Om tog volmaak te leef
Heer soos U vra
Soos ons die einde sien nader
Om volmaak te wees net soos ons hemelse Vader
Afgeskryf
Elke einde van die maand
Is my posbus oorlaai
Die briewe kom van heinde en ver
Na my toe aangewaai
Maar die meeste van die briewe
Het ‘n venster daarin
Met my naam, adres en poskode
In die vierkant uitgestal
Weet ek sommer daar’s ‘n skuldbrief in
Wat ek sal moet betaal.
Daar is ‘n aanvraag vir ‘n paaiement:
‘Meneer, jy moet betaal!’
Daar is aanmanings en dreigement –
Hulle werk hard met my gal
Hulle eis van my die laaste sent
Of die balju kom my haal
En maak ek moedig my balansstaat oop
Dan word ek sommer mal
Want die skulde het my afgestroop
Ek is alreeds rot en kaal
Op die lessenaar lê nog een brief
Dit is dikker as die res
Met ‘n bewend hand sny ek versigtig oop
Ek gebruik my briewemes
Ek skrik groot, want ek sien daarin
Al my sonde neergeskryf
Maar die ding wat my nog groter ruk
Ja ek voel dit aan my lyf
Dis ‘n bloedrooi streep met die woord daarin:
‘Jou skuld is afgeskryf’
My skuld is afgeskryf? Dis afgeskryf?
Iemand het betaal!
My skuld is afgeskryf! Dis afgeskryf!
Dis Jesus! Hy’t betaal.
My skuld is afgeskryf! Dis afgeskryf!
Ja alles is betaal.
My skuldbewys is aan die kruis
Met Jesus vasgenael
Met Sy bloed daar het die Heiland weer
My skuldbrief deurgehaal
Nou kyk ek weer na al die pos
Ek besluit net daar en dan
Met die skuld wat soos ‘n berg voor my lê
Maak ek nou ‘n plan
Maar ek besef ook dat ek voortaan
Versigtig moet wees
En nie rond te gaan en wild en woes
My met skuld weer op te saal
Want skuld het die een naar gevolg:
Iemand moet betaal
Ja, skuld het baie al tot raserny gedryf
Maar lekker is dit om te kán getuig:
My skuld is afgeskryf.
Psalm 23
Die HERE is my Herder en ek is sy skaap
Hy sorg dat ek snags so rustig kan slaap
In sappige velde laat Hy my wei
Na bruisende waters word ek gelei
Hy herset my siel, kern van my lewe
Help my na regverdigmaking strewe
Als om Sy Naam ontwil, ja,
Als om Sy Naam ontwil
My aardse pad is een lang doods-vallei
Waar die Bose gedurigdeur met my stry
En dood skadu deurgaans naby my bly
Maar ek vrees nie want God loop aan my sy
Sy Wet hou my deurgaans boetvaardig
Tot ek my aan Sy Feesmaal versadig
Oorkant my teëstanders, ja
Oorkant my teëstanders
My hoof is gesalf, my beker loop oor
Sy goedheid en guns sal my einde bekoor
As my lewensdae hier verstreke is
En die Wit troon die mens se lot beslis
Sal ‘mooi so!’ uit my Heer se mond vir my
Die reg gee om in Sy huis te kan bly
Vir ewig en ewig, ja
Vir ewig en ewig.
Ek Kan Sien
Dit is moeilik te beskryf hoe my lewe eens was
Aan iemand wat nie in die donker rondtas
Jy weet ek was nie verbitterd, maar het selde gelag
Maar als het verander een pragtige dag
Ek het daar op ‘n straathoek die tyd maar verwyl
Om ‘n aalmoes gebedel, die nuus uitgeruil
Toe die klank van ‘n skare die stilte versteur
Het ek spannend gevoel dat iets sou gebeur
‘n Man kom toe na my en spuug op die grond
Maak klei van die spuug, smeer dit om my oë rond
Stuur my na Siloam, sê: ‘gaan was af die klei’
En my oë word geopen, die nag is verby
Ek weet nie hoe’ t Hy dit gedoen nie
Ek’t net geweet: Hom moet ek dien
Gister was ek in die donker
Nou ’s ek in Hom, ek kan sien
Toe die Fariseërs meer nog te hore wou kom
Het hul my in die Tempel gekruisvra oor Hom
Selfs my ouers moes meer kom vertel het daarvan
Maar hul ’t net gesê: ‘Vra hom!’ (hul ‘t gevrees vir die ban)
Ek sê toe aan hul: van die begin van die tyd
Kon niemand nog ooit blinde oë so ontsluit
Die man kom van God! - Maar hul het my verwyt
En gevloek en hardhandig die poort uitgesmyt
Ek weet nie hoe ’t Hy my gevind nie
Ek het net gehoor Hy praat met my
Ek’t Hom maklik herken aan die klank van sy stem
Hy’t my van die donker bevry
Toe Hy met my praat kon ek dit nie keer
Dat trane van blydskap my sig weer versteur
En tesaam met die droom wat Hy waarheid laat kom
Kon ek buig en aanbid, al die eer gee aan Hom
En ek noem Hom my Heer en Verlosser
Die een wat ek waarlik wil dien
Gister was ek in die donker
Nou ‘s ek in Hom, ek kan sien
Ja ek noem Hom my Heer en Messias
Die Een wat ek altyd sal dien
Hy’t my gebring uit die donker
Tot in Sy Lig – ek kan sien
(Oorgeskryf uit Engels, ‘n lied van Don Francisco)
Te Laat
O broeder, besin tog die tyd is naby
Kom broeder maak oorlog teen sond’slawerny
Sê dank vir elk oomblik deur Hom daargestel
Gee mildelik en vrylik aan hul neergevel
Gebruik jou talente, bou nooit nie op sand
Steek aan in jou lente jou lig oral brand
Want Broeder!
As jy daar voor Gods troon eendag staat
Dan is dit te laat, ja, helaas te laat
O Suster, jou skoonheid laat engele sing
Jou mooie gesindheid laat lief jou omring
Bewaar tog jou liggaam, die plek van Gods troon
Wees hartlik en minsaam, laat Hom in jou woon
Verafsku die sonde, die wêreld jou bied
Jou siel god-gebonde, jou hart sing ‘n lied
Want Suster!
As jy daar voor Gods troon eendag staat
Dan is dit te laat, ja, helaas te laat
Kom dan my broeder en suster in die Heer
Laat ons steeds onder Sy invloed verkeer
Verslap die stryd nie wees lugtig en waak
Bestee jou tyd hier te berei aan Sy saak
Want my Broer en Suster!
As ons daar voor Gods troon eendag staat
Dan is dit te laat, ja, vir ewig te laat
Erger as Spykers
Het jy al ooit gewonder
Oor die kruisdood van ons Heer
Al ooit gedink wat die ergste was
Van wat Hy moes ontbeer
Het jy al ooit empaties
Ingeleef wat Hy moes ly
Het jy al ooit gehuil oor waaroor
Hy die seerste pyn sou kry
Het jy al ooit Sy lydensweg
Se trappe vergelyk
Van erg tot erger
Tot Hy uiteindelik beswyk?
Het jy al gedink oor wat die ergste was van wat met Jesus gebeur het op Sy Lydensweg? Was dit dalk die manier van hoe hulle Hom in hegtenis geneem het – met swaarde en stokke, asof Hy ‘n rower was? Of dalk daar by die skynheilige Joodse Raad, in wie se teenwoordigheid Hy aangerand was? Was dit dalk daardie berugte gesel? Dalk die wrede kat-en-muis spel van die soldate? Was dit dalk daardie oomblik toe hulle Hom lewendig van Sy onderkleed gestroop en Hy daar heeltemal ontbloot en weerloos op die kruishout uitgestrek was? Of was dit dalk die spykers! Daardie ruwe spykers wat so ongeërg dwarsdeur been en vlees gedryf was om Hom vas te nael aan ‘n ewe ruwe hout?
Kon daar iets erger wees?
Ja, daar was iets erger as spykers!
En dit was seer, ontsettend seer.
Hy was verraai... uit Sy vriendekring
Hy was verlaat... deur Sy dissipel kring
Hy was verloën... daar uit Sy binnekring
Ja, daar wás iets erger as spykers
Het jy as gelowige al ooit gewonder oor jou verhouding met die Heer? Die gelowiges is hulle wat die spotters kring van die wêreld verlaat het om in Jesus se kring te beweeg.
Sy Vriendekring: Jesus sê: niemand het groter liefde as dit nie – dat hy sy lewe vir sy vriende aflê. En dit is presies wat Hy gedoen het vir ek en jy, sodat ons tot Sy vriendekring toegelaat kon word. Maar ag, hoe dikwels verlaat ons nie Sy vriendskap vir die ou stukkies silwer en dit alles wat die wêreld ons kan bied nie.
Sy Dissipel kring: Die Skrif sê van Jesus se inhegtenisneming: “Toe het al Sy dissipels hom verlaat en weggehardloop.” Wat ‘n bittere ontnugtering! Maar hoeveel dissipels laat Hom nie vandag nog in die steek en hardloop weg van hul primêre opdrag om Sy getuies te wees en deur die goeie beeld uit te dra en so die hele wêreld te inspireer tot dissipelskap nie?
Sy Binnekring: Hulle wat verder en dieper met Jesus saamgaan. Op die Berg van verheerliking; by die opwekking van Jaïrus se dogtertjie; vir oulaas, dieper in Getsémane. Maar juis uit hiérdie kring kom die een wat Hom verloën. Wat ‘n hartseer mare! Kan jy dink watter ekstra verantwoordelikheid rus daar op Sy binnekring vandag? Die leiers in Sy Kerk! Hul lewens en optredes moet getuig daarvan dat hulle Hom dieper ken.
Kan jy dink hoe seer dit vandag nog steeds vir Jesus moet wees as hierdie kring van gelowiges Hom verraai, of verlaat, of verloën?
Dit is seer ja, ontsettend seer.
Dit is erg ja,
Baie erger as spykers.
Ek dank U
Vader wat woon in die hemel
Ek dank U vir my aardse lewe
Ek dank U vir genade groot
U het my hand houvas
Vandat ek nog ‘n kindjie was
Sorg U vir my daagliks brood
Ek dank U vir die gawe Heer
Van die Lewe aan my verleen
Deur die dood van U enig Seun
U stuur ook Die Gees vir my
Om my lewe in U toom te kry
Ek dank U
Vader in die hemel ek voel so bly
Ek wil voortaan my self, my als aan U wy
As ‘n lewend heilig offer
Selfs my skatte na U koffer
Net uit dankbaarheid
Ek wil U dien my Heer
Net uit dankbaarheid
Wil leef tot U eer
Net uit dankbaarheid
Ek is dankbaar en so bly
My Heer is lief vir my
Hy is altyd naby my
Ja, ek val voor U neer en...
Ek sê dankie, Vader Heer, ek dank U
Ek sê dankie, Jesus Heer, ek dank U
Ek sê dankie, Heilige Gees, ek dank U
Onthou My
Betlehem, Wonder nag
Golgota, Reddings Krag:
Dis die sleutel na die lewe daar bo
Jesus het dit aan die kruis
Op die heuwel verwerf
En Hy bied dit aan almal wat glo
Leë graf, alle Mag
Heilige Gees, Pinksterdag:
Daarmee was die verbond nuut beseël
As ons Jesus die Heer
Van ons lewe laat word
Sal ons saam in Sy Opstanding deel
Bring hierdie Tyding
En bring dit weer en weer
Want ek vergeet so gou
Bring hierdie Tyding
En bring my weer en weer
Tot innig, diepe berou
Onthou my, liewe Heer
Ek is sondig en wêrelds
Altyd geneig tot die kwaad
Maar onthou my liewe Heer
Daagliks, voortdurend
Aan U ewige Reddingsdaad
Goue Strate
Ja, ons sal op goue strate loop
Gods woord self skenk ons daardie hoop
In die stad waar son en maan verdwyn
En God se Lam oor ons sal skyn
Al die uitverkorenes sal daar woon
Rondom die Lam se goue troon
In die ewige Lig van God se Gees
Want nag sal nimmer daar meer wees
Laat dit so wees my Heer
Laat ons saam met U regeer
Kan jy dink hoe heerlik sal dit wees om eendag op daardie goue strate te mag loop? Maar ek wil vir jou tog ‘n waarskuwing lees uit die Bybel: Openbaring 21:27 – Daar staan: “Niks onreins en niemand wat iets losbandig en vals doen sal ooit daarin kom nie, maar net die wie se name in die Boek van die Lewe, in die Boek van die Lam geskrywe staan.” Is jou naam al in daardie Boek opgeteken?
Laat dit so wees my Heer
Laat ons saam met U regeer
“Toe het die engel my die rivier met die water van die Lewe gewys.
Dit is helder soos kristal en dit stroom vanuit die troon van God
en van die Lam uit.”
Laat dit so wees my Heer
Laat ons saam met U regeer
“Tussen die hoofstraat van die stad aan die een kant
en die rivier aan die ander kant staan die Boom van die Lewe.
Hy dra twaalf keer per jaar vrugte: Elke maand lewer hy sy vrugte.
Die blare van die boom bring genesing vir die nasies.”
Laat dit so wees my Heer
Laat ons saam met U regeer
“Daar sal niks meer wees wat deur God vervloek is nie.
Die troon van God en van die Lam sal in die stad wees en
Sy dienaars sal Hom dien. Hulle sal Hom sien en
Sy Naam sal op hulle voorkoppe wees.”
Laat dit so wees my Heer
Laat ons saam met U regeer
“Daar sal nie meer nag wees nie.
Die mense het nie die lig van ‘n lamp of die lig van die son nodig nie,
omdat die here God hulle sal verlig en
hulle sal tot in ewigheid regeer.”
Laat dit so wees my Heer
Laat ons saam met U regeer
(Dankie weereens Seppie Andries)
Nooit nie Alleen
Die pad voor my lyk so donker
So steil, so moeilik, so wreed
Soms voel ek so bitterlik eensaam
Deur als en almal vergeet
Ek hoor ‘n stem wat my aanspreek
Wat sê kyk rondom jou heen
My Naam, Immanuel, beloof jou
Ek laat jou nooit nie alleen
Nee, nooit nie alleen, o nee, nooit nie alleen
Hy het beloof Hy laat nooit nie
Ja nooit laat Hy my alleen
Nee, nooit nie alleen, o nee, nooit nie alleen
Hy het beloof Hy bly ewig
En altyd rondom my heen
Hy sterf vir my op ‘n heuwel
Vir my ‘n spies in Sy sy
Vir my ‘n fontein van Lewe
Bars oop terwyl hy daar ly
Vir my wag Hy in Sy glorie
Met eng’le rondom Hom heen
Hy het beloof hy laat nooit nie
Ja nooit laat Hy my alleen
Met hierdie Bladsy wil ek net graag vir Apostel Paulus beaam waar hy sê: “Ek is wat ek is deur die Genade van die Here,” (1Kor.15:10) maar ek wil hierdie gedagte verder neem en sê:
“Ek is omdat Jy en Hy is, en Ons is omdat God se Genade is wat Hý is.”
Om na die volgende Bladsy te gaan klik hier, en om terug te keer na die Inhoud opgaaf, klik hier.