BAREND BEN JOSEPH
My Hart Se Ryme
ASPIRANT DIGTER/SKRYWER
Ek is nie ʼn digter nie en nog minder is ek ʼn skrywer van enige formaat. Ek dink nie my greep op enige taal is sterk genoeg om enigsins in daardie kategorieë te beland nie, nie eers per ongeluk nie. Ten beste is ek maar ʼn rymelaar en vandaar die titel van hierdie afdeling van my lewensverhaal: My Hart se Ryme. Hier wil ek maar net uiting gee aan ʼn skrywers drang wat dalk op iets groot kon uitgeloop het, indien ek meer in die meganika van Afrikaans of selfs Engels belanggestel het.
Ten spyte van hierdie gestremdheid hoop ek egter heimlik dat jy hierdie bladsye sal besoek en selfs lees, miskien selfs geniet.
Neem egter kennis dat ek nie ʼn geheim daarvan maak dat ek erg gegriefde Afrikaner is, oor die manier waarop hierdie verwysing onder die groter Afrikaanse kultuur sambreel uitgekaap is en ʼn “slegs vir” handvatsel geword het om uitsluitlik na die Afrikaners van Voortrekker agtergrond te verwys en die res van die Afrikaners te onteien, onterf, ontbloed, ontredder, ontnugter, onderskei en te rangeer in ʼn Apartheid-hokkie wat gereserveer is vir “Kleurlinge” en watter ander handvatsels ook al sinoniem daarmee geword het.
Die eerste hoofstuk van hierdie Boek naamlik Die Nuwe Wêreld Afrikaner sal vir jou meer sê oor hierdie tedere hartsaak. Wanneer jy dit gelees het sal jy meer begrip hê vir hoe my gedagtes inmekaar steek en jy sal ook verstaan dat dit wat vir my begin het as maar net Ryme die Skrywes intussen gegroei het ‘n groter doel daaragter, naamlik die vereniging van die Afrikaner, ‘n Goddelike Opdrag. Daar lê egter baie oorredings werk voor.
Ten eerste moet die Voortrekkers tot die besef gebring word dat hulle wel ‘n uitverkore Volk is, maar hulle is nie dié Afrikaners nie, maar eerder ‘n integrale onderdeel is van, en wat saam met die ander stamme in Suid Afrika moet verenig om die Ware Afrikaner te word. Ten tweede moet al die sogenaamde nie-Voortrekkers (jammer) van Suid Afrika ook hulle strydbyle begrawe en saam met die Voortrekkers deel word van God se Afrikaner-Lieflingskind, wat vir die Nuwe Wêreld moet leer hoe goed dit is dat broers saamwoon.
Dan sal ons in staat wees om behoorlik hande te vat in eenheid en Suid Afrika omskep in ons beloofde Land op aarde en die pad sal vir ons oop lê na ons geestelike Beloofde Land in die hemel.
Neem kennis dat van die werk teenaan die pornografie grens kuier, indien dit nie dalk die grens oorsteek nie. My uitgangspunt is dat jy nie met nagvuil kan werk sonder dat jou hande self vuil word en die onwelriekende geur in jou klere en neusgate kom tent opslaan nie.
Net so is een sub-bladsy deurspek met byvoorbeeld die “K”-woord. Nie omdat dit vir my lekker is om dit te gebruik nie, maar omdat dit nodig is om ʼn sweer oop te steek sodat al die etter kan uitloop en die heling volledig kan wees, iets wat nog nooit in ons Afrikaner samelewing ʼn werklikheid geword het nie, omdat mense geleer het om maskers te dra wanneer hulle meng, maar boeta! Luister maar na van dieselfde mense wanneer hulle dink dat hulle veilig weg is van vlieë teen die mure of veldore.
Maar moenie kommer nie, ek sal wel die nodige waarskuwingsborde aanbring sodat jy self kan besluit of jy dit durf sou waag en of jy maar liewer van agter jou hoë mure met CCTV die werklikheid wil betree.
En laat my toe om sommer hier al my keel so bietjie te gorrel oor Afrikaans. Ons kan gerus die stywe “u” uit ons omgangstaal verwyder. Behalwe dat dit nog ʼn stuk Nederlandse naelstring is wat halsstarrig in Afrikaans bly vassteek het, het dit ook deel van die stink gebruik by ons geword waar die laer range (gewoonlik die “anderskleuriges”) die hoër range (gewoonlik die “blankes”) op hierdie manier (moet) aanspreek, terwyl die hoë hoede sommer met ʼn loslit “jy” na enigeen verwys. Ek sê, kom ons is hier die wêreld ʼn punt voor.
Kom ons gebruik die “U” om slegs na God (soos in gebed) en formeel (soos in preke en toesprake) na mense te verwys en die “jy” om na ander mense te verwys maak nie saak wat hul rang is nie, in lyn met die Engelse “you”.
Ons moet ook nie toelaat dat enige godsdiens organisasie die beskermheer van Afrikaans wees nie. So skep ons net ongevraagde en ongewensde grense vir ons Taal. Afrikaans behoort aan almal wat dit gebruik. Afrikaans behoort ook aan enige persoon van enige agtergrond, ras, kultuur, geloof en watter ander verdelings lyn ook al, wat dit wil gebruik. So word Afrikaans dan ook ʼn halssnoer van verskillende edelgesteentes waarmee Moeder Afrika haarself mee kan versier.
Dit sal beteken dat ons die status quo vir Afrikaans se skryf- en spelreëls tydelik sal moet ophef en as Afrikaners van alle kultuur agtergronde saam sal moet besin oor die pad vorentoe, wat die amptelike en formele Afrikaans gaan wees, en wat die gewone praat- en dialekte-Afrikaans gaan wees.
Ons moet ook waak daarteen om elke denkbare woordjie te wil verafrikaans. Dit kan nogal kontraproduktief word. Afrikaans gaan een van die linguistiese swaargewigte van die wêreld word indien ons ons nette wyer uitgooi en die Afrikaanse nektar meer bereikbaar maak vir ʼn groter menigte voëls van verskillende vere wat in verskeie soorte bome nes maak.
Die konsolidasie van Afrikaans gaan die grootse positiewe nagevolge ooit denkbaar hier aan Suider Afrika ontketen in die sin dat dit een verenigde Afrikaner nasie daar gaan stel. Verenig en sterk en eendragtig en magtig: Ex Unitate Vires, die een stukkie Apartheid geskiedenis wat die land se leuse betref, wat ek graag sal wil sien herleef as die ware leuse van Afrikaners en Afrikaans.
Kom deel en speel en lag en huil en vat hande saam met my in Afrikaans.
Hier volg die inhoud opgaaf van die bladsye oor my verse en ander skrywes. Klik net op die skakel om na die bladsy te gaan wat jy wil lees.
- HOOFSTUK EEN: In Die Begin
- HOOFSTUK TWEE: Allegaartjie
- HOOFSTUK DRIE: Kyk Hy kom
- HOOFSTUK VIER: Die Naald Wat In God Se Oog Steek
- HOOFSTUK VYF: Die Genade Van Die Here
- HOOFSTUK SES: 'n Mondvol Limeriek
Tot sover eers my hart se ryme. Die idee is dat ek sal voortbou hierop en so dan en wan nog 'n Rym of idee byvoeg, soos die Gees my inspireer.
Ek hoop jy geniet die eenvoud van my gedagtes en ook dat jy ernstig kennis neem van die Goddelike Opdrag van Vereniging wat hierin geborduur is.
BBJ